06 March 2009

Hoe word Tipe 2 Diabetes gediagnoseer?

Wanneer van die simptome voorkom is dit belangrik dat 'n diagnose gedoen word. By Tipe 2 diabete is die simptome egter baie keer lig en daarom moet mense gereeld hulle bloed toets deur middel van 'n gewone vingerpriktoets sommer by die apteek.

Dit is belangrik dat 'n mediese dokter die siekte reg diagnoseer aangesien dit 'n lewenslange invloed op 'n persoon het.

Die een simptoom wat alle diabete in gemeen het hoë bloedsuiker. Dit is gewoonlik ook die eerste wat getoets word.

Vingepriktoets

Die vingerprik toets is die toets waar die vinger met 'n skerp naald ('n lanset) geprik word, die druppeltjie bloed word dan op 'n strokie, wat in 'n glukometer gedruk is, geplaas en die meter gee 'n telling in millimol/liter (in Suid-Afrika)

Indien die vingerprik toets hoog is vir ten minste 2 toetse, is verdere toetse nodig.

'n Bloedsuikervlak van bo 7 mmol/l dui op 'n moonltikheid van diabetes en moet verdere toeste gedoen  word.

Twee ure nadat geëet is (Post-prandiaal) is die optimale vingerprik 4mmol tot 8 mmol, 8mmol tot 10mmol is aanvaarbaar (maar kan dui op pre-diabetes), en bo 10 mmol vereis verdere aksie.


Bloedplasmatoets

Gewoonlik word dit gedoen wanneer die pasiënt vastend is - m.a.w -geen kos of vloeistof inname vir 8 ure nie. Bloed word getrek en na 'n laboratorium verwys. Die vloeibare gedeelte van die bloed word gebruik om die glukose in die bloed te toets.

Tellings onder 5.5 mmmol/l word as normaal beskou. Tellings van hoër as 6.9 mmmol/l word as riskant beskou en die dokter sal gewoonlik die toets op 'n 2 dag herhaal. Indien dit weer hoër is as 6.9 mmol/l word diabetes gediagnoseer. Tellings tussen 5.5 mmol/l en 6.9 mmol/l word ook as riskant beskou en die dokter kan verdere toetse aanvra soos die glukose toleransie toets (GTT). Dit kan ook dui op pre-diabetes.

Glukose Toleransie Toets
Die toets meet die liggaam se vermoë om suiker (koolhidrate) te hanteer. Die toets word by die laboratorium self gedoen. Dit word ook vastend gedoen – m.a.w. niks per mond vir ten minste 8 ure nie (water word wel toegelaat). Dit word in die oggend gedoen. Die patient word ook gewoonlik versoek om ‘n week voor die toets minder koolhidrate in te neem om ‘n vals positiewe toets te vermy. Dit word gewoonlik ook nie gedurende ‘n siekte tyd gedoen nie aangesien bloedsuikervlakke deur siekte beïnvloed word.
By die laboratorium word die pasiënt ‘n glas van ongeveer 75-100mg glukose opgelos in 250-300ml water gegee om te drink (1,75g per kg liggaamsgewig), nadat eers ‘n vastende bloedplasmatoets gedoen is. Daarna word bloed elke halfuur getrek vir 2 tot 3 ure en bloedplasmaglukose word gemeet:
Die resultate kan as volg geïnterpreteer word:
Normaal: Vastend: 6.1mmol/l 2 ure: Minder as 7.8

Belemmerde vastende glukose: Vastend: ≥6.1 en minder as 7.0mmol/l 2 ure: minder as 7.8 mmol/l
Belemmerde glukose tolleransie: Vastend: Minder as 7.0 2 ure: ≥7.8 mmol/l
Diabetes: Vastend: ≥7.0 mmol 2 ure: ≥ 11.1 mmol (die toets word gewoonlik herhaal om diagnose te bevestig)

HbA1c

Hemoglobien A1c is ‘n toets om die gemiddelde plasma glukose konsentrasie te meet oor ‘n periode van 2 tot 3 maande. Dit word uitgedruk in terme van ‘n persentasie of mmol/mol. Byvoorbeeld: Indien die pasiënt ‘n HbA1c telling kry van 6.9% beteken dit dat sy gemiddelde bloedsuiker ongeveer 9.2mmol/l is oor ‘n tydperk van ongeveer 12 weke. ‘n Volledige omsetting van A1c tellings kan hier gekry word.
Dit is uiteraard belangrik dat die telling onder 6.2% gehou word. Tellings onder 8% is aanvaarbaar en tellings wat hoër is as 9% verhoog kanse vir diabetiese komplikasies.

Verdere toetse
Die dokter kan moontlik verdere toetse aanvra/doen onder andere die volgende:
  • Hy sal kyk na die pasient se LMI (Liggaams Massa Indeks) Dit dui op die verhouding van ‘n persoon se lengte en sy gewig. Die formule om dit te bereken is:
BMI = Gewig(kg) / Lengte²(m²)
Normale kategorie = 18,5 tot 25
  • Bloeddruk: Die doelwit is ‘n sistoliese bloeddruk van minder as 130mmHg en ‘n diastoliese bloeddruk van minder as 80mmHg.
  • Lipiede (Bloedvette): Doelwit is: Totale Cholestrol: minder as 5.0mmol/l; LDL minder en gelyk aan 3.0; HDL meer as 1.2 mmol/l; Triglisiriedes minder as 1.2mmol/l.
  • Uriene Suikertoets: Dit is 'n stokkie wat binne in die urine gedoop word. Die toets meet suiker teenwoordig in die uriene wat dui op diabetes.
  • Uriene Ketonetoets: Die toets is ook 'n stokkie-toetse en meet of daar ketone teenwoordig is in die uriene. Ketone onstaan wanneer die liggaam homself begin afbreek omdat hy "honger lei" (sien bespreking by spysvertering en Tipe 1 diabetes).
  • C-peptiede toets - Dit is 'n bloedtoets en meet indirek hoeveel insulien die pankreas vervaardig 
  • Insulienvlak Bloedtoets: Dit is ook 'n bloedtoets en meet die hoeveelheid insulien teenwoordig in die bloed. Hoë tellings  dui op insulienweerstandigheid en moontlike Tipe 2 diabetes.
  • Lewerfunksie toets: Tipe 2 diabetes toon groter lewerfunksieafwykings as individue wat dit nie het nie. Dit word soms gebruik as 'n hulpmiddel by die tipe behandeling wat 'n dokter kan voorskryf vir tipe 2 diabete. 

01 March 2009

Diabetes: Wat is die simptome?

Tipe 2 diabetes kan en gaan wel soms ongediagnoseerd omdat dit lyk of die simptome skadeloos is en soms normaal voorkom. Daarom is dit belangrik dat almal wat 'n familiegeskiedenis van diabetes het om gereeld hulle bloedsuiker te laat toets. Simptome van Tipe 1 en 2 diabetes kan subtiel wees en alle simptome kom ook nie noodwendig gelyk voor nie.

Ek kan nie meer beklemtoon dat bloedsuiker gereeld getoets moet word nie. Selfs by kinders. 'n Eenvoudige vingerprik toets is in baie gevalle reeds genoeg om diabetes te diagnoseer.

Alhoewel sekere simptome van tipe 1 en tipe 2 diabetes wel ooreenkom is daar ook sekere verskille:

Aanvangsouderdom: Tipe 1 diabetes word meer algemeen by kinders gediagnoseer.  (Outoimmuniteit diabetes- tipe 1) word soms by volwassenes ontwikkel en word LADA diabetes genoem en soms word kinders wat 'n tipe diabetes ontwikkel MODY diabetes genoem).


Liggaamsgewig: Tipe 1 diabeet is gewoonlik maer en van normale gewig terwyl die oorgrote meerderheid (ongeveer 80%) tipe 2 diabete oorgewig is. Oorgewig is 'n simptoom van Tipe 2 diabetes nie die oorsaak nie.

Vlak van glukose: Hoë is 'n simptoom by beide Tipe 1 en 2 diabetes. Tipe 1 diabeet se glukose vlakke is gewoonlik baie hoër by aanvang as tipe 2 diabete. Tipe 1 diabete kan met aanvang bloedsuikers van meer as 16mmol/l hê, terwyl tipe 2 diabetes bloedsuikers van 11 – 14 mmol/l het.

Ernstigheid van aanvang: Tipe 1 diabetes het skielike ernstige en dramatiese aanvang, terwyl tipe 2 diabete gelykdelik simptome van diabetes toon. Tipe 2 diabeet kan vir jare 'n diabeet wees sonder dat hy/sy dit besef. Dit maak dit gevaarlik omdat dit baie keer eers gediagnoseer word wanneer komplikasies al ingetree het. (Let wel: ek verwys na ernstigheid van aanvang en nie na die ernstigheid per se van tipe 1 vs tipe 2 nie - albei tipe diabetes is gevaarlik)


Simptome by Tipe 1:

Van die simptome van 'n kind kan ervaar is:

Gereelde urinering: Die liggaam stort die oormatige glukose in die niere. Om te voorkom dat urine so dik soos stroop word, onttrek die niere vloeistof vanuit die liggaam om sodoende oormatige suiker uit te skei.
Uitermatige dors: Omdat die niere vloeistof uit die liggaam onttrek begin die liggaam ontwater en word die persoon geweldig dors. Dis nie ongewoon dat 'n persoon tot 5 liter water per dag inneem nie.
Uitermatige honger: As gevolg van insulien tekort kan glukose nie in die selle opgeneem word nie.(sien bespreking van metabolisme). Onthou die brein weet nie die liggaam het diabetes nie, al wat ervaar word is 'n hongerte omdat die selle hongersnood het. Nou begin die bose kringloop. Die persoon eet meer, glukose in bloed styg maar word nie opgeneem nie. Die liggaam ervaar steeds hongesnood. (Die gevolge is ketoasidose).
Ongewone gewigsverlies: Die liggaam begin vette afbreek as gevolg van die "hongersnood" wat hy ervaar. Vetsure vergiftig die liggaam en ketone onstaan wat ook in die urine uitgeskei word. Verlies aan spierweefsel vind ook plaas. Uiteinde is ketoasidose.
Toenemende moegheid: Die liggaam kan nie glukose opneem as energie nie en baie ander chemiese prosesse vind plaas om brandsof vir energie te kry. Dit veroorsaak moegheid.
Geïrriteerdheid: Die brein skakel oor na 'n "noodtoestand" die onbelangrikste aspek vir oorlewing word eerste afgeskakel en dit is die persoon se persoonlikheid. Die gevolg is dat die persoon geirriteerd raak, vinnig emosioneel raak, bakleierig raak, of selfs soos 'n dronk persoon optree.
Wasige sig: Dit word veroorsaak deurdat die glukose inhoud van die lens verskil van die glukose inhoud van die bloed. Die lens bevat geen bloedvate nie (om lig in die oog te laat). Glukose moet moet dus vanuit die omliggende vloeistof na die lens getrek word. Wanneer bloedglukose vinnig verander, verander die lens se glukose nie so vinnig nie. Indien die lens se glukose meer is as die van die bloed trek die lens vloeistof in wat veroorsaak dat die lens swel – dit verander die lens se vorm en veroorsaak tydelike bysiendheid. (Dit het niks te doen met oogkomplikasies wat na jare in die oog kan plaasvind nie.)
Slegte asem: As gevolg van hoë ketone ruik die asem amandelrig en sleg.
Naarheid en Braking: Die simptoom is baie ernstig. Dit beteken dat die kind reeds in 'n fase van ketoasidose inbeweeg waar die liggaam reeds deur ketone vergiftig is. 'n Kwart van alle kinders wat gediagnoseer word, beland in die hospitaal met ketoasidose.
Koma: Dit is 'n ernstig en lewensgevaarlik en vereis onmiddelike mediese aandag. Dokters sal bloedglukose geleidelik afbring in die hospitaal. Indien bloedglukose te vinnig afgebring word kan die brein swel wat tot die dood kan lei.


Simptome by Tipe 2:

Omdat die simptome nie skielik voorkom nie en nie altyd so sigbaar is nie word tipe 2 diabeet ongelukkig baie keer eers gediagnoseer wanneer komplikasies reeds begin begin het. Dit is dus belangrik om gereelde bloedsuiker toetse te laat doen. Dis belangrik om te onthou dat diabetes altyd ernstig is. Daar is nie grade van ernstigheid van diabetes nie.

Wasige sig: Soos bo beskryf
Snye en sere wat nie genees nie, mondsere, geswelde tandvleise en los tande en urienweg infeksies: Witbloedselle wat help met genesing van die liggaam funksioneer nie goed in hoë glukose omgewing nie en ongelukkig floreer bakterië wat infeksies veroorsaak in hoë glukose omgewing. Die liggaam is dus meer vatbaar vir infeksies.
Jeukerige vel en genitalië en gis infeksies (vaginale infeksies veral by die vrou): Gis (yeast) infeksies, ook genoem sproei floreer ook is hoë glukose omgewing, dit veroorsaak 'n gejeuk en ongemak.
Toenemende dors, droeë mond en toenemende behoefte aan urinering: Soos bo beskryf. Hier onstaan nie altyd ketoasidose nie maar 'n wat genoem word.
Pyne en lamheid in die bene en voete: Dit is 'n algemene newe effek van diabetes, ook genoem neuropatie wanneer senueindpunte beskadig is. Dit is weereens een van die simptome wat 'n teken is dat die persoon al reeds die toestand al baie lankal onder lede het.
Hartprobleme en hipertensie: Persone met tipe 2 diabetes is meer vatbaar vir hartprobleme as mense wat nie diabetes het nie.
Oorgewig en gewigsverlies: Indien die persoon oorgewig is, is die geneigdheid vir tipe 2 diabetes groter as wanneer iemand regte gewig handhaaf. (Oorgewig kan 'n simptoom wees van tipe 2 diabetes en nie noodwendig 'n oorsaak nie). Verder is skielike gewigsverlies (sonder 'n spesifieke dieet om gewig te verloor) ook 'n simptoom.

Donker vlekke op die vel: Veral in die nek voue en arm voue.


09 February 2009

Tipe 2 Diabetes

Voorheen bekend as Nie-insulien Afhanklike Diabetes (NIDDM)/ Volwasse Diabetes (Adult onset diabetes)

Ongeveer 90% van alle diabete is Tipe 2 Diabete.

'n Genetiese faktor (defektiewe gene) tesame met ander
risiko faktore kan Tipe 2 diabetes veroorsaak. Risiko faktore wat Tipe 2 diabetes kan veroorsaak is onder andere die volgende:

  • Familiegeskiedenis
  • Ouer as 45 jaar (kanse verhoog met ouderdom)
  • Ras en etniese agtergrond: Latynse groepe; swart mense; Asiërs en inboorlinge van Amerika is meer geneig om Tipe 2 diabetes te ontwikkel
  • Metaboliese Sindroom (Ook genoem Insulien weerstandigheidsindroom en Sindroom X)
  • Oorgewig: 'n BMI van meer as 25 verhoog die risiko van Tipe 2 diabetes (80% van alle Tipe 2 diabete is oorgewig). Veral oorgewig oor die middelarea (maag) van die liggaam. Dis egter eerder 'n simptoom as 'n oorsaak.
  • Hipertensie: Hoë bloeddruk verhoog die risiko vir Tipe 2 diabetes
  • Abnormale Cholestrolvlakke: HDL (goeie) van minder as 1,925 mmol/l en LDL (slegte) van meer as 13.85 mmol/l verhoog kanse vir Tipe 2
  • Swangerskap Diabetes: 'n geskiedenis van diabetes tydens swangeskap asook vrouens wat geboorte skenk aan babatjies van meer as 4 kg
  • 'n Geskiedenis van Polisistiese Eierstoksindroom
  • Onaktiewe leefstyl van min oefening kan bydrae tot insulienweerstandigheid
  • Geskiedenis van vaskulêre siekte soos beroerte

Tipe 2 diabetes kan ook sekondêr wees van 'n ander siekte. Tipe 2 diabetes word veroorsaak deur 'n verskiedenhed van faktore en nie net 1 faktor nie.

Hoe gebeur dit? Verskeie maniere waarop Tipe 2 diabetes begin:

Die liggaam bou om een of ander rede ‘n weerstand op teen insulien (maw die liggaam het te veel insulien (teenoor Tipe 1 diabeet wat te min insulien het). Lees weer die gedeelte oor metabolisme. Die sel reseptors maak om een of ander rede nie oor nie en insulien word nie effektief benut nie. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Nog 'n probleem wat navorsing bevind het is dat om een of ander rede vervang die liggaam nie betaselle wat doodgaan nie – soos normaalweg wanneer selle doodgaan, betaselle verminder en kan nie insulien effektief afskei nie. 'n Tekort in insulien ontstaan. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Die lewer kan te veel glukose vervaardig - te veel vir die selle om opgeneem te word en daar is te min insulien om die glukose te dek. Bloedsuikervlakke bly hoog.

Dit kan ook wees dat die pankreas homself "oorwerk" - omdat die selle nie die insulien opneem nie (weerstandigheid) en bloedsuikervlakke hoog bly "verhonger" die liggaam en skei al meer insulien af. Nou begin die beta selle ophou insulien vervaardig (Die selle is nie dood of vernietig soos by Tipe 1 diabeet nie). Insulientekort tesame met weerstandigheid veroorsaak dat bloesuikervlakke hoog bly.

As gevolg van die genoemde probleme is die bloedsuikervlakke hoog - dieselfde simptoom as by Tipe 1 ontstaan. In die opsig staan die 2 tipes diabete lynreg teenoormekaar.

'n Uitgebreide bespreking oor die oorsaak van tipe 2 diabetes kan hier gevind word. (Vir die wat glo 'n skok of groot skrik veroorsaak diabetes: Ek kon nêrens bewyse kry dat dit die geval is nie. Siektes en ongelukke wat die pankreas vernietig kan wel diabetes veroorsaak.)

'n Persoon kan sy kanse om Tipe 2 diabetes omgekeer word met 'n gesonde leefstyl van gesonde dieet en meer oefening. (Dit beteken nie almal moet maraton altete word nie, maar ligte oefening soos tuinwerk, trappe klim ipv hysbak neem, werk toe stap, ens) 'n Lae Koolhidrate dieet is ook geweldig voordelig vir voorkoming en beheer van Tipe 2 diabetes.


Wanneer Tipe 2 diabeet gediagnoseer word word medikasie verskaf afhangend waar die probleem ontstaan het. Medikasie sluit pille en ander medikasie in om die weerstand vir insulien af te breek, te keer dat  die lewer te veel glukose vervaardig, of te keer dat die pankreas te veel insulien afskei. Vitamines en mineralebyvoegings is ook voordelig. Insulien word ook op 'n later stadium toegedien en meerder gevalle saam met medikasie, alhoewel die persoon dan insulien kry moet hy/sy nog steeds medikasie gebruik om weerstandigheid af te breek. (Sommige navorsing toon dat baie Tipe 2 diabete 5 tot 10 jaar na diagnose wel insulien begin gebruik) LET WEL die Tipe 2 diabeet word nie nou 'n Tipe 1 diabeet omdat hy nou insulien gebruik nie. Die diagnose verander nie.

Ontwikkeling van Tipe 2 diabetes kan 'n lang proses wees en simptome kan oor 'n tydperk ontstaan. 'n Persoon kan diabetes vir jare hê voordat dit gediagnoseer word - dit opsigself veroorsaak probleme aangesien komplikasies al begin ontwikkel voordat iets daaraan gedoen kan word. Dit is dikwels eers wanneer komplikasies onwikkel wat veroorsaak dat diabetes gediagnoseer word. Daarom is gereelde bloedsuikertoetse so belangrik.


Ongelukkig is 'n ander probleem besig om te ontwikkel en die prenjie waar slegs volwassenes as Tipe 2 diabeet gediagnoseer was is besig om vinnig te verander. Selfs kinders kry deesdae T2 diabetes as gevolg van verkeerde leefstyl van onaktiwiteit, swak dieet en oorgewig (tesame met genetiese faktor). Ons moet ons kinders aanmoedig om meer aktief te wees, minder televisie te kyk, tv en rekenaarspeletjies te speel en die belangrikste van alles koolhidrate uit te sny.  



31 January 2009

Tipe 1 Diabetes

Voorheen bekend as Diabetes Mellitus, Insulien afhanlike diabetes (IDDM).

Ongeveer 10% van alle diabete is Tipe 1. Word gewoonlik gediagnoseer by persone onder die ouderdom van 35/40.

Dit is ‘n Outo-immuniteit siekte, met ander woorde die liggaam se immuniteit val homself aan. Dit werk so:

Die liggaam se immuunstelsel (t-limfosiete/teenliggame) beskerm ons teen vreemde bakterieë en ander vreemde voorwerpe in die liggaam. Dit val die vreemde voorwerp aan en vernietig dit. Soo wanneer jy 'n virus het. Die liggaam se immuunstelsel sal die virus aanval en probeer vernietig.  Dit gebeur soms dat die liggaam om een of ander rede homself aanval en selle begin vernietig. Die versteuring of siekte wat ontwikkel hang af van watter sisteem of orgaan in die liggaam aangeval word. By Tipe 1 diabetes val die immuunstelsel die betaselle in die Eilande van Langerhans op die pankreas aan en vernietig dit. Daar is met ander woorde dan geen betaselle wat insulien kan afskei nie en die reseptors op die selle bly gesluit (sien die bespreking oor metabolisme) en bloedsuiker verhoog.



Die selle ervaar dus "hongersnood" omdat dit nie glukose in die selle kan opneem om te verbrand vir energie nie.

Alhoewel glukose in die bloed baie hoog is bly die persoon honger. Met ander woorde die kos is daar maar die liggaam kan dit nie gebruik nie. Onthou die liggaam en brein weet nie van diabetes nie. Al wat die brein ervaar is hongersnood en die liggaam begin dan vette en proteiene afbreek om kos te probeer kry wat nog steeds nie opgeneem kan word sonder insulien nie en nou begin ketone ontwikkel. (sien die bespreking oor metabolisme).
Die liggaam ervaar 'n "kosnood" begin hy sy noodvoorraad opgebruik- glukgeen, die vette, in die vorm van vetsure (ketone) asook die weefsel (die persoon verloor dus ook baie gewig). Die situasie raak  nou gevaarlik want, wanneer die liggaam homself afbreek en ketone ontstaan begin die liggaam homself vergiftig en 'n toestand ontstaan wat bekend is as Diabetiese Ketoasidose (DKA) (Dit is die grootste oorsaak van hospitalisering van kinders met diabetes). Ketoasidose veroorsaak naarheid en braking, onsamehangendheid, maagpyn, kortasem en dit kan uiteindelik tot 'n koma lei en die dood kan intree. (Ketoasidose kom meer by Tipe 1 diabetes voor. By Tipe 2 diabetes kan 'n toestand ontstaan wat genoem word Nonketotiese Hiperosmolar Sindroom (NKHS))

Die niere is die uitskeidingsorgaan van afval. Wanneer bloedsuikervlakke baie hoog is, en hy kan dit nie gebruik nie, word dit uitgeskei anders word die bloed lettelik so dik soos stroop (Dit kan lyk soos dik tamatiesous – dink net hoe moeilik vervoer die bloed suustof en ander voedingstowwe). Die glukose word uitgeskei deur die niere in die blaas. Omdat dit letterlik so dik is soos stroop kan word onttrek die niere vloeistof uit die liggaam om die stroop te verdun, waarna dit uitgeskei word in urine. Die persoon voel die heeltyd dors (uitermatige dors) as gevolg van waterverlies, drink dan al meer vloeistof en urineer dan meer en meer.

Teen die tyd wat diabetes by ‘n kind gediagnosseer word, is daar gewoonlik nog net sowat 20% betaselle oor. Ongelukkig is daar tans nog geen manier gevind om te verhoed dat die oorblywende selle ook nie deur die immuunstelsel afgebreek word nie. Verdere simtome van diabetes is moegheid, geirriteerdheid, persoon is liggaamlik swak asook toon swak sig met wasigheid voor die oë.

Die liggaam is dus afhanklik van insulien deur middel van inspuiting of insulienpomp (Insulien word dus nou van buite die liggaam verskaf soos wat die betaselle op die pankreas dit sou doen).

By Tipe 1 diabetes is nie noodwendig 'n insulien weerstand op die selle nie net ‘n tekort aan insulien omdat die betaselle vernietig is. (Insulien weerstandigheid kan wel onstaan tydens puberteit en later jare)

Daar is 'n genetiese faktor van beide ouers af, by tipe 1 diabetes.

Die aanvang is skielik en ernstig. Dit ontstaan meestal by kinders en volwassenes onder die ouderdom van 35/40 jaar.

Op hierdie stadium is dit onomkeerbaar – selle kan nie weer teruggroei nie! (Dit kan wel oorgeplant word ). Daar is tot op hede geen genesing nie. Daar is egter heelwat vordering gemaak ten opsigte van die beheer van diabetes. Gedurende die 1950's het 1 uit elke 5 diabete binne 20 jaar na diagnose gestref en 1 uit elke 3 binne 25 jaar. Vandag sterf slegs 3,5 persent binne 20 jaar en 7% na 25 jaar. Vandag word daar ook vinnig vordering gemaak met 'n entstof wat diabetes kan voorkom.

Insulien tesame met 'n lae koolhidraat dieet is behandeling vir Tipe 1 diabetes.

Diabetes bly ‘n 24 uur balanseertoertjie. Insulien en oefening verlaag bloedsuiker (dan moet koolhidrate ingeneem word) en kos en veral koolhidrate verhoog die bloedsuiker (dan moet insulien ingespuit word om die bloedsuiker te verlaag). Te veel insulien veroorsaak hipoglusemie (lae bloedsuiker) en te min insulien veroorsaak hiperglusemie (hoë bloedsuiker). Enige siekte of ongesteldheid asook puberteit beïnvloed bloedsuiker. Seisoensveranderinge is geneig om bloedsuiker te beïnvloed, so ook groeifases.

Wat is Diabetes? 'n Oorsig

Diabetes word ook soms  suikersiekte genoem. Dis 'n wanvoorstelling omdat die mite bestaan dat mense van diabetes het "allergies" vir suiker is en glad nie suiker mag inneem nie. (Dan word aangeneem dat ander koolhidrate wel aanvaarbaar is.) Die term, suikersiekte, het ontstaan omdat die urine van 'n diabeet soet is, soos suiker en dat in die ou dae die urine geproe is om diabetes te diagnoseer. Dit word ook suikersiekte genoem omdat daar te veel suiker (glukose) in die bloed is. In 1922 is die eerste pasiënt met insulien behandel. Voor dit het alle diabetes 'n vinnige dood in die gesig gestaar. Dit egter jammer tot vandag toe is daar nie genesing vir diabetes nie, slegs behandeling.

Diabetes kan ingedeel word in twee breë kategorieë. Tipe 1 voorheen bekend as insulien afhanklike diabetes en Tipe 2 diabetes voorheen bekend as nie-insulien afhanklike diabetes of volwasse diabetes (Adult onset diabetes). Tipe 1 diabetes maak 5-10% van alle diabete uit en diegroot meerderheid is Tipe 2. (Daar is ook ander tipes diabetes onder andere swangerskap diabetes (Gestational Diabetes, LADA (Latente outoimuun diabetes in Volwassenes), Mody (Maturity onset diabetes of the young – volwasse aanvangsdiabetes ), Diabetes Insipidus (wat nie werklik diabetes is nie, maar 'n onvermoë van die liggaam om vloeistof te hanteer)

Dit is belangrik om te verstaan dat Tipe 1 diabetes en Tipe 2 diabetes verskillende kondisies is met dieselfde simptoom het naamlik hoë bloedsuiker, maar heeltemal verskil in oorsaak en behandeling.



Tipe 1 diabetes is 'n outoimmuun siekte wat ontwikkel wanneer die betaselle op die pankreas vernietig word en kan insulien met ander woorde nie vrygestel word nie. Die enigste behandeling is om insulien deur middel van inspuitings te ontvang.

Tipe 1 diabetes ontstaan gewoonlik voor die ouderdom van 35 jaar, terwyl tipe 2 diabetes na die ouderdom van 35 jaar ontwikkel. Dit is egter ontstellend dat al meer kinders ook met tipe 2 diabetes gediagnoseer word, veral tydens puberteit.

Die Tipe 2 diabeet kan probleme by enige van 3 organe begin naamlik: die lewer, die liggaamselle of die pankreas. Die lewer kan 'n oormaat van glukose produseer en insulien is nie genoeg om die oormaat glukose te dek nie. Die liggaamselle kan weerstandig wees vir insulien. Met ander woorde daar is insulien beskikbaar maar om een of ander rede maak of "sluit" die reseptors van die selle nie oop om glukose uit die bloed te ontvang nie. Derdens begin die pankreas om een of ander rede minder insulien vervaardig en glukose kan ook nie deur die selle opgeneem word nie. Afhangend van waar die probleem is word die tipe 2 diabeet daarvolgens medikasie gegee en gewoonlik in die vorm van pille. Tipe 2 diabete kan egter later ook insulien begin gebruik (ongeveer 5 tot 10 jaar na diagnose). Die tipe 2 diabeet se toestand kan in baie gevalle onder beheer gebring word deur 'n veranderende leefstyl van lae koolhidrate, oefening en medikasie. 'n Uitstekende video oor  hoe om diabetes te beheer kan hier gesien word.

Albei tipes diabetes het 'n genetiese faktor, tipe 2 diabetes is egter meer oorerflik. (Daar is heelwat gene geïdentifiseer wat te doen het met diabetes. Die lys groei. By tipe 2 diabetes speel die omgewing ook 'n groter rol. Indien albei ouers egter Tipe 2 diabetes het is die kans 100% dat die kinders ook diabetes kan ontwikkel.
By tipe 1 diabetes is daar 'n genetiese faktor van beide ouers af. Indien albei ouers Tipe 1 diabeet is is daar minder as 20 % kans dat kinders dit kan ontwikkel, indien 1 van identiese tweelinge diabetes ontwikkel sal daar 'n 40-50% kans wees dat die ander tweeling dit kan ontwikkel. 'n Omgewingssneller kan 'n rol speel by die aanvang van Tipe 1 diabetes maar daar kan steeds nie met sekerheid gesê word wat die oorsaak is nie. Sommige navorsers meen dat die koxsackie virus dit kan voorafgaan, ander navorsing toon dat 'n beesmelkallergie daartoe aanleiding kan gee, nog ander beweer dar 'n maagvirus dalk die oorsaak kon wees.

Hier is ook 'n goeie bespreking oor die verskille tussen tipe 1 en 2 diabetes.

Spysvertering, metabolisme en insulien

Diabetes is 'n metaboliese versteuring en is dit daarom belangrik om die basiese spysverteringsproses te verstaan. (Met spesifieke verwysing na suiker en koolhidrate). My beskrywing hier is baie vereenvoudig. 'n Mediese dokter sal dit in meer detail uiteen kan sit.

Wanneer mens eet word voedsel gekou en die eerste meganiese fase van spysvertering vind plaas. Dit beweeg dan af na die maag waar 'n gemaal saam met ensieme, sure en soute die voedsel verder afbreek.
Die voedsel moet tot kleiner molekules afgebreek word voordat dit uit die spysverteringskanaal in die bloedstroom geabsorbeer kan word.

Soos die produkte van die spysvertering deur die dunderm afbeweeg, word dit deur die dun binnewand in bloed- of limfvate geabsorbeer.

Onverteerbare voedsel (wat hoofsaaklik vesel is) en water bereik dan die dikderm. Die onverteerde voedsel word in die dikderm tot ’n soliede massa omgevorm deurdat water weer deur die liggaam herabsorbeer word. Die grootste volume water word uit die dikderm geabsorbeer, die res word in die fases deur die rektum en dan by die liggaam uitgeskei.

Ons dieet bestaan uit drie makro elemente, nl proteiene, vette en koolhidrate.

Proteïene (wat onder andere in bees- en skaapvleis, vis en hoender voorkom, ook in eiers, kaas en ander melkprodukte) word deur ensieme van die maag, die pankreas en die dunderm afgebreek tot polipeptiede, peptiede en aminosure. Proteïene het ons in die laerskool al geleer help met die bou en herstel van weefsels.  Proteine kan ook in afwesigheid van koolhidrate omgesit word in glukose.

Die afbreek van koolhidrate (alle stysels soos ertappels, rys, pastas en brood en suikers soos gewone rietsuiker, lekkers, vrugte, groente, melkprodukte ens) tot maltose begin reeds in die mond deur amilase, ’n ensiem in speeksel.

Uiteindelik word koolhidrate in die dunderm met behulp van sukrase, maltase en laktase in pankreassap in drie eenvoudige suikers, naamlik glukose, fruktose en galaktose, omgesit.

Glukose, fruktose en galaktose beweeg na die lewer waar fruktose en galaktose omgesit word in glukose. Die meeste glukose word in die lewer gestoor in die vorm van glukogeen wat later deur die liggaam gebruik om glukose in die bloed te verhoog indien dit benodig word tussen etes, in die nag of wanneer sport beoefen word.

Die lewer gebruik glukagon (wat deur die pankreas vrygestel word) om die  gestoorde glukogeen om te sit in glukose. Die brein kry sy "glukose" slegs vanaf die lewer.  Die res van die glukose beland nou in die bloed waar dit vervoer word na sekere selle wat dit gebruik vir energie of gestoor word as vet.

Net die lewer kan glukose in die bloed kan vrylaat. Glukogeen wat in die spiere gestoor word kan slegs deur daardie spiere gebruik word en word nie in die bloed vrygestel nie.

Glukagen is ook voldoende net vir 'n sekere tyd indien voedsel nie ingeneem word nie – 24 uur by volwassenes en 12 uur by kinders. Daarna sal die liggaam ander store, vette afbreek om energie te verkry.

Vette (onder andere vleisvette, botter en olies) word deur lipase (pankreas), galsoute en -sure van die lewer (geberg in die galblaas) afgebreek tot gliserol, gliseriede en vetsure. Vetsure word omgesit in ketone in die lewer (ook metaboliese ketone/ketosis) en gliserol verander in glukose. In afwesigheid van hoë bloedsuiker, is die ketone voedingsketone wat onstaan wanneer die liggaam in 'n vetverbrande staat is en nie staatmaak op koolhidrate vir energie nie.
Alle selle (behalwe die breinselle) in die liggaam kan vetsure gebruik as brandstof. Net die spiere, hart, niere en brein kan ketone as brandstof gebruik. In die afwesigheid van koolhidrate kan ketone tot twee derdes van die brein se energie behoeftes voorsien. Die liggaam gebruik dan ketone as energie. By kinders ontwikkel ketone vinniger en kan hoër vlakke bereik as volwassenes. 

Ketosis moet nie verwar word met ketoasidose nie. By diabetes is ketoasidose 'n uiters gevaarlike toestand waar ketone gepaartgaan met hoë bloedsuiker.  Dit veroorsaak suur in die liggaam wat die liggaam baie vinnig afbreek en lewensgevaarlik is.  Ketosis is 'n metaboliese staat waar die liggaam ketone en vet gebruik as energie (lw in afwesigheid van hoë bloedsuiker.) 'n Goeie video hieroor kan hier gevind word.

DIE ROL VAN INSULIEN

Insulien is 'n hormoon wat deur betaselle afgeskei word.

Betaselle lê in die Eilande van Langerhans wat op die pankreas geleë is. Eilande van Langerhans is ongeveer 0.1mm in totaal en bevat ongeveer 200 eenhede insulien. Die totale volume van almal saam is nie groter as 'n vingerpunt nie. (Om te dink dat iets so klein so groot invloed op die liggaam het!)

Insulien word afgeskei wanneer glukose in die bloed teenwoordig is. Ter verduideliking word insulien hier beskryf as 'n sleutel. Insulien "sluit" selle se reseptors oop. Nou kan glukose die selle binnedring om gebruik te word as energie. Verder stimuleer insulien ook die lewer om glukose te stoor as glukogeen. Insulien stimuleer ook die vorming van vette van oorblywende glukose wat nie dadelik benodig word nie, en dit stimuleer proteïen samestellings in die liggaam.

Bloedglukose  of bloedsuikervlakke word gemeet in millimol per liter (mmol/l) – in Suid-Afrika – en milligram per desiliter (mg/dl) in sommige ander lande. 1 mmol/l is ongeveer 18,05 mg/dl.

Betaselle het 'n "ingeboude bloedglukose meter" Dit registreer wanneer bloedglukose hoog is en skei dan meer insulien af en hou op insulien afskei wanneer glukose vlakke laer is. 'n Normale persoon, sonder diabetes, se insulienvlakke sal nie meer as 1-2 mmol/l styg na etes nie.

Nie alle selle insulien nodig het om glukose op te neem nie. Hulle neem glukose direk uit die bloed. Die selle word eerste beskadig wanneer verhoogde bloedsuiker vlakke oor 'n lang tydperk ervaar word. Die selle is  breinselle , senuwee eindpunte, retina van die oog, niere, adrenale kliere, asook die in bloedvate veral die kleiner bloedvaatjies.

Daar is sekere tye wanneer daar nie genoeg glukose in die liggaam is nie en dan word die afskeiding van insulien gestop om glukose te bewaar vir die mees belangrikste organe. Die liggaam benodig altyd klein hoeveelhede van inlulien, self gedurende die nag en tussen maaltye om die glukose te akkommodeer wat van die lewer afkomstig is. Dit word basale insulien of agtergrond insulien genoem. Groter hoeveelhede insulien wat benodig word tydens etes word bolus insulien genoem. Die liggaam se behoefte aan insulien verskil van dag tot dag en van een tyd in die dag tot 'n ander tyd asook van een situasie tot 'n ander situasie.

Inleiding: Diabetes en Ons

Dit was met gemengde gevoelens dat ons die pad vat Pretoria toe net nadat ons uitgevind het JH het Tipe 1 diabetes. Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê en ons het gou uitgevind dat die pad wat ons loop maar 'n alleen pad is en dat min mense weet wat diabetes is. Daarmee saam is daar ook geweldig baie mites oor diabetes. Dit is ongelooflik om te hoor wat mense kwyt raak.

Ek het begin bekommerd raak oor Jan-Hendrik so baie water drink en op 6 jarige ouderdom skielik weer sy bed nat begin maak het – en nie net een keer per nag nie. Boonop was dit winter en die beddegoed wou net nie droog word nie. Ek het begin ongeduldig raak en geraas wanneer hy so baie water 
in die nag drink omdat ek nie wou hê hy moet weer 'n glips hê nie. Teen Woensdag die 8ste Mei 2002 het ek aan my man die moontlikheid van diabetes genoem en dit net omdat ek erensvan die simptome gehoor het.

Vrydag-oggend, 10 Mei 2002, het ek hom aangesê om niks te eet nie . Ek wou hom apteek toe gaan vat vir 'n glukose toets. Om een of ander rede besluit ek om eerder dokter toe te ry. Daar gekom, vind ons sy bloedsuiker is in die omgewing van 15 mmol en het hy ketone van 4+ (getoets met 'n uriene stokkie). Die dokter het 'n dokter in Kimberley geskakel vind ons uit dat JH ongeveer 'n week in die hospitaal sal moet bly. Daar en dan besluit ek Kimberley is uit. Die besluit was ook na aanleidning van 'n vorige slegte ervaring daar. Ek neem die inisiatief en bel 'n vorige pediater in Pretoria. Die ontvangsdame lig my in dat hulle al hulle diabete na 'n spesifieke pediatriese endokrinoloog in Pretoria verwys. Dié dokter deel my mee dat ons dadelik moet deurkom. Hulle sal vir ons wag, aangesien dit toe reeds ongeveer 10/11 uur is, 'n Vrydag en etlike ure (4-5) se ry soontoe.

Op pad koop Phanus vir ons koeldrank en uit onkunde sê ek dat hy asseblief nie iets moet koop met suiker nie. Hy moet maar vir JH 'n lemoensap koop. Ek besef natuurlik later hoe onkundig ek was en dat lemoensap propvol koolhidrate en suiker is!

In Pretoria aangekom is sy bed in die hospitaal klaar gereed en ook alles wat met die behandeling gepaard gaan. Sy suiker word getoets. Dis in die omgewing van 27mmol (natuurlik die lemoensap!). Skielik is ons in 'n wêreld van toets en spuit en 'n magdom inligting om te leer. Nooit het ek gedink ek sal dit in my hê om iemand in te spuit nie. Min het ek besef hoe baie ek nog gaan leer en dat ek nog steeds op hierdie dag - 14 jaar later - steeds navorsing doen, mense ondersteun en inligting versamel. Die eerste ongeveer ses maande het ek tot 8 ure per dag navorsing gedoen en geleer wat ek kon. Dis 'n geweldige leerkurwe.

Ek het besef indien ek in beheer wil wees van die kondisie en my kind se lewe in my hande is 24/7, moet ek leer wat ek kan. Ons bly ver van spesialiste en ek kon nie met elke probleem in die kar spring en Gauteng of Bloemfontein toe ry nie. Ek het vinnig geleer van bloedsuikers, bolusse, basale en ketone. Skielik het ek geweet al daardie voedselkennis wat ek reeds gehad het nie onnodig was nie, want dis koolhidrate tel en weet wat die invloed op JH se liggaam is. Ek is egter spyt ek het nie toe geweet dat 'n lae koolhidrate leefstyl (van minder as 30g per dag) die beste behandeling vir diabetes is nie.  Ons is aangesê dat hy kan eet wat hy wil en dat hy net hoef in te spuit vir die koolhidrate. So voer ons jare lank 'n stryd met skommelende bloedsuiker, wat vermy kon word.

Die eerste ruk was die moeilikste in my lewe. Deels, omdat ons nou met iets onbekends te doen het en andersyds, omdat dit my kind, my enigste seun is, wat daaronder ly. Nie 'n dag gaan verby wat hy nie sleg gevoel het met óf 'n hoë óf 'n lae bloedsuiker nie. Gepaardgaande hiermee is die persoonlikheidsveranderings en emosionele uitbarstings wat plaasvind as gevolg van bloedsuiker skommelinge.

Aanvanklik was JH op 'n gemengde insulien van kort en langwerkende insulien (Protophane) wat hy 2 keer per dag gekry het en 'n kortwerkende insulien (acraphane) vir etes wat later vervang is met actrapid. Daarna het hy 'n langwerkende insulien (Lantus) 1 keer per dag in die aand op dieselfde tyd gekry (basale insulien) en 'n snelwerkende insulien (Novorapid) om sy etes te dek (bolus insulien). Sedert 22 September 2007 het ons JH op die insulienpomp gesit wat elke 3 minute insulien aan die liggaam verskaf en dan word bolusse gegee om etes te dek.


Dis elke dag 'n kwessie van 'n stryd om balans. Kos, oefening, groeifases in die liggaam, seisoene, stres beïnvloed alles bloedsuiker. Maar met die krag van Bo hanteer ons elke dag soos hy kom.....

Voorwoord

Ek het die blog in 2009 begin met die ideaal om 'n boek in Afrikaans die lig te laat sien. Jare late en het ek nog nie daarby uitgekom nie.  Hopelik kan ek dit die volgende paar jaar doen en dan ook met die fokus op 'n lae koolhidraat leefstyl as deel van behandeling.

Geweldig baie inligting is in Engels regoor die internet beskikbaar, maar bitter min in Afrikaans. Ek gaan wel nou en dan verwysings van ander blogs en webblaaie plaas, wat noodwendig in Engels gaan wees.

Enige kommentaar, vrae en inligting sal verwelkom word.