31 January 2009

Tipe 1 Diabetes

Voorheen bekend as Diabetes Mellitus, Insulien afhanlike diabetes (IDDM).

Ongeveer 10% van alle diabete is Tipe 1. Word gewoonlik gediagnoseer by persone onder die ouderdom van 35/40.

Dit is ‘n Outo-immuniteit siekte, met ander woorde die liggaam se immuniteit val homself aan. Dit werk so:

Die liggaam se immuunstelsel (t-limfosiete/teenliggame) beskerm ons teen vreemde bakterieë en ander vreemde voorwerpe in die liggaam. Dit val die vreemde voorwerp aan en vernietig dit. Soo wanneer jy 'n virus het. Die liggaam se immuunstelsel sal die virus aanval en probeer vernietig.  Dit gebeur soms dat die liggaam om een of ander rede homself aanval en selle begin vernietig. Die versteuring of siekte wat ontwikkel hang af van watter sisteem of orgaan in die liggaam aangeval word. By Tipe 1 diabetes val die immuunstelsel die betaselle in die Eilande van Langerhans op die pankreas aan en vernietig dit. Daar is met ander woorde dan geen betaselle wat insulien kan afskei nie en die reseptors op die selle bly gesluit (sien die bespreking oor metabolisme) en bloedsuiker verhoog.



Die selle ervaar dus "hongersnood" omdat dit nie glukose in die selle kan opneem om te verbrand vir energie nie.

Alhoewel glukose in die bloed baie hoog is bly die persoon honger. Met ander woorde die kos is daar maar die liggaam kan dit nie gebruik nie. Onthou die liggaam en brein weet nie van diabetes nie. Al wat die brein ervaar is hongersnood en die liggaam begin dan vette en proteiene afbreek om kos te probeer kry wat nog steeds nie opgeneem kan word sonder insulien nie en nou begin ketone ontwikkel. (sien die bespreking oor metabolisme).
Die liggaam ervaar 'n "kosnood" begin hy sy noodvoorraad opgebruik- glukgeen, die vette, in die vorm van vetsure (ketone) asook die weefsel (die persoon verloor dus ook baie gewig). Die situasie raak  nou gevaarlik want, wanneer die liggaam homself afbreek en ketone ontstaan begin die liggaam homself vergiftig en 'n toestand ontstaan wat bekend is as Diabetiese Ketoasidose (DKA) (Dit is die grootste oorsaak van hospitalisering van kinders met diabetes). Ketoasidose veroorsaak naarheid en braking, onsamehangendheid, maagpyn, kortasem en dit kan uiteindelik tot 'n koma lei en die dood kan intree. (Ketoasidose kom meer by Tipe 1 diabetes voor. By Tipe 2 diabetes kan 'n toestand ontstaan wat genoem word Nonketotiese Hiperosmolar Sindroom (NKHS))

Die niere is die uitskeidingsorgaan van afval. Wanneer bloedsuikervlakke baie hoog is, en hy kan dit nie gebruik nie, word dit uitgeskei anders word die bloed lettelik so dik soos stroop (Dit kan lyk soos dik tamatiesous – dink net hoe moeilik vervoer die bloed suustof en ander voedingstowwe). Die glukose word uitgeskei deur die niere in die blaas. Omdat dit letterlik so dik is soos stroop kan word onttrek die niere vloeistof uit die liggaam om die stroop te verdun, waarna dit uitgeskei word in urine. Die persoon voel die heeltyd dors (uitermatige dors) as gevolg van waterverlies, drink dan al meer vloeistof en urineer dan meer en meer.

Teen die tyd wat diabetes by ‘n kind gediagnosseer word, is daar gewoonlik nog net sowat 20% betaselle oor. Ongelukkig is daar tans nog geen manier gevind om te verhoed dat die oorblywende selle ook nie deur die immuunstelsel afgebreek word nie. Verdere simtome van diabetes is moegheid, geirriteerdheid, persoon is liggaamlik swak asook toon swak sig met wasigheid voor die oë.

Die liggaam is dus afhanklik van insulien deur middel van inspuiting of insulienpomp (Insulien word dus nou van buite die liggaam verskaf soos wat die betaselle op die pankreas dit sou doen).

By Tipe 1 diabetes is nie noodwendig 'n insulien weerstand op die selle nie net ‘n tekort aan insulien omdat die betaselle vernietig is. (Insulien weerstandigheid kan wel onstaan tydens puberteit en later jare)

Daar is 'n genetiese faktor van beide ouers af, by tipe 1 diabetes.

Die aanvang is skielik en ernstig. Dit ontstaan meestal by kinders en volwassenes onder die ouderdom van 35/40 jaar.

Op hierdie stadium is dit onomkeerbaar – selle kan nie weer teruggroei nie! (Dit kan wel oorgeplant word ). Daar is tot op hede geen genesing nie. Daar is egter heelwat vordering gemaak ten opsigte van die beheer van diabetes. Gedurende die 1950's het 1 uit elke 5 diabete binne 20 jaar na diagnose gestref en 1 uit elke 3 binne 25 jaar. Vandag sterf slegs 3,5 persent binne 20 jaar en 7% na 25 jaar. Vandag word daar ook vinnig vordering gemaak met 'n entstof wat diabetes kan voorkom.

Insulien tesame met 'n lae koolhidraat dieet is behandeling vir Tipe 1 diabetes.

Diabetes bly ‘n 24 uur balanseertoertjie. Insulien en oefening verlaag bloedsuiker (dan moet koolhidrate ingeneem word) en kos en veral koolhidrate verhoog die bloedsuiker (dan moet insulien ingespuit word om die bloedsuiker te verlaag). Te veel insulien veroorsaak hipoglusemie (lae bloedsuiker) en te min insulien veroorsaak hiperglusemie (hoë bloedsuiker). Enige siekte of ongesteldheid asook puberteit beïnvloed bloedsuiker. Seisoensveranderinge is geneig om bloedsuiker te beïnvloed, so ook groeifases.

Wat is Diabetes? 'n Oorsig

Diabetes word ook soms  suikersiekte genoem. Dis 'n wanvoorstelling omdat die mite bestaan dat mense van diabetes het "allergies" vir suiker is en glad nie suiker mag inneem nie. (Dan word aangeneem dat ander koolhidrate wel aanvaarbaar is.) Die term, suikersiekte, het ontstaan omdat die urine van 'n diabeet soet is, soos suiker en dat in die ou dae die urine geproe is om diabetes te diagnoseer. Dit word ook suikersiekte genoem omdat daar te veel suiker (glukose) in die bloed is. In 1922 is die eerste pasiënt met insulien behandel. Voor dit het alle diabetes 'n vinnige dood in die gesig gestaar. Dit egter jammer tot vandag toe is daar nie genesing vir diabetes nie, slegs behandeling.

Diabetes kan ingedeel word in twee breë kategorieë. Tipe 1 voorheen bekend as insulien afhanklike diabetes en Tipe 2 diabetes voorheen bekend as nie-insulien afhanklike diabetes of volwasse diabetes (Adult onset diabetes). Tipe 1 diabetes maak 5-10% van alle diabete uit en diegroot meerderheid is Tipe 2. (Daar is ook ander tipes diabetes onder andere swangerskap diabetes (Gestational Diabetes, LADA (Latente outoimuun diabetes in Volwassenes), Mody (Maturity onset diabetes of the young – volwasse aanvangsdiabetes ), Diabetes Insipidus (wat nie werklik diabetes is nie, maar 'n onvermoë van die liggaam om vloeistof te hanteer)

Dit is belangrik om te verstaan dat Tipe 1 diabetes en Tipe 2 diabetes verskillende kondisies is met dieselfde simptoom het naamlik hoë bloedsuiker, maar heeltemal verskil in oorsaak en behandeling.



Tipe 1 diabetes is 'n outoimmuun siekte wat ontwikkel wanneer die betaselle op die pankreas vernietig word en kan insulien met ander woorde nie vrygestel word nie. Die enigste behandeling is om insulien deur middel van inspuitings te ontvang.

Tipe 1 diabetes ontstaan gewoonlik voor die ouderdom van 35 jaar, terwyl tipe 2 diabetes na die ouderdom van 35 jaar ontwikkel. Dit is egter ontstellend dat al meer kinders ook met tipe 2 diabetes gediagnoseer word, veral tydens puberteit.

Die Tipe 2 diabeet kan probleme by enige van 3 organe begin naamlik: die lewer, die liggaamselle of die pankreas. Die lewer kan 'n oormaat van glukose produseer en insulien is nie genoeg om die oormaat glukose te dek nie. Die liggaamselle kan weerstandig wees vir insulien. Met ander woorde daar is insulien beskikbaar maar om een of ander rede maak of "sluit" die reseptors van die selle nie oop om glukose uit die bloed te ontvang nie. Derdens begin die pankreas om een of ander rede minder insulien vervaardig en glukose kan ook nie deur die selle opgeneem word nie. Afhangend van waar die probleem is word die tipe 2 diabeet daarvolgens medikasie gegee en gewoonlik in die vorm van pille. Tipe 2 diabete kan egter later ook insulien begin gebruik (ongeveer 5 tot 10 jaar na diagnose). Die tipe 2 diabeet se toestand kan in baie gevalle onder beheer gebring word deur 'n veranderende leefstyl van lae koolhidrate, oefening en medikasie. 'n Uitstekende video oor  hoe om diabetes te beheer kan hier gesien word.

Albei tipes diabetes het 'n genetiese faktor, tipe 2 diabetes is egter meer oorerflik. (Daar is heelwat gene geïdentifiseer wat te doen het met diabetes. Die lys groei. By tipe 2 diabetes speel die omgewing ook 'n groter rol. Indien albei ouers egter Tipe 2 diabetes het is die kans 100% dat die kinders ook diabetes kan ontwikkel.
By tipe 1 diabetes is daar 'n genetiese faktor van beide ouers af. Indien albei ouers Tipe 1 diabeet is is daar minder as 20 % kans dat kinders dit kan ontwikkel, indien 1 van identiese tweelinge diabetes ontwikkel sal daar 'n 40-50% kans wees dat die ander tweeling dit kan ontwikkel. 'n Omgewingssneller kan 'n rol speel by die aanvang van Tipe 1 diabetes maar daar kan steeds nie met sekerheid gesê word wat die oorsaak is nie. Sommige navorsers meen dat die koxsackie virus dit kan voorafgaan, ander navorsing toon dat 'n beesmelkallergie daartoe aanleiding kan gee, nog ander beweer dar 'n maagvirus dalk die oorsaak kon wees.

Hier is ook 'n goeie bespreking oor die verskille tussen tipe 1 en 2 diabetes.

Spysvertering, metabolisme en insulien

Diabetes is 'n metaboliese versteuring en is dit daarom belangrik om die basiese spysverteringsproses te verstaan. (Met spesifieke verwysing na suiker en koolhidrate). My beskrywing hier is baie vereenvoudig. 'n Mediese dokter sal dit in meer detail uiteen kan sit.

Wanneer mens eet word voedsel gekou en die eerste meganiese fase van spysvertering vind plaas. Dit beweeg dan af na die maag waar 'n gemaal saam met ensieme, sure en soute die voedsel verder afbreek.
Die voedsel moet tot kleiner molekules afgebreek word voordat dit uit die spysverteringskanaal in die bloedstroom geabsorbeer kan word.

Soos die produkte van die spysvertering deur die dunderm afbeweeg, word dit deur die dun binnewand in bloed- of limfvate geabsorbeer.

Onverteerbare voedsel (wat hoofsaaklik vesel is) en water bereik dan die dikderm. Die onverteerde voedsel word in die dikderm tot ’n soliede massa omgevorm deurdat water weer deur die liggaam herabsorbeer word. Die grootste volume water word uit die dikderm geabsorbeer, die res word in die fases deur die rektum en dan by die liggaam uitgeskei.

Ons dieet bestaan uit drie makro elemente, nl proteiene, vette en koolhidrate.

Proteïene (wat onder andere in bees- en skaapvleis, vis en hoender voorkom, ook in eiers, kaas en ander melkprodukte) word deur ensieme van die maag, die pankreas en die dunderm afgebreek tot polipeptiede, peptiede en aminosure. Proteïene het ons in die laerskool al geleer help met die bou en herstel van weefsels.  Proteine kan ook in afwesigheid van koolhidrate omgesit word in glukose.

Die afbreek van koolhidrate (alle stysels soos ertappels, rys, pastas en brood en suikers soos gewone rietsuiker, lekkers, vrugte, groente, melkprodukte ens) tot maltose begin reeds in die mond deur amilase, ’n ensiem in speeksel.

Uiteindelik word koolhidrate in die dunderm met behulp van sukrase, maltase en laktase in pankreassap in drie eenvoudige suikers, naamlik glukose, fruktose en galaktose, omgesit.

Glukose, fruktose en galaktose beweeg na die lewer waar fruktose en galaktose omgesit word in glukose. Die meeste glukose word in die lewer gestoor in die vorm van glukogeen wat later deur die liggaam gebruik om glukose in die bloed te verhoog indien dit benodig word tussen etes, in die nag of wanneer sport beoefen word.

Die lewer gebruik glukagon (wat deur die pankreas vrygestel word) om die  gestoorde glukogeen om te sit in glukose. Die brein kry sy "glukose" slegs vanaf die lewer.  Die res van die glukose beland nou in die bloed waar dit vervoer word na sekere selle wat dit gebruik vir energie of gestoor word as vet.

Net die lewer kan glukose in die bloed kan vrylaat. Glukogeen wat in die spiere gestoor word kan slegs deur daardie spiere gebruik word en word nie in die bloed vrygestel nie.

Glukagen is ook voldoende net vir 'n sekere tyd indien voedsel nie ingeneem word nie – 24 uur by volwassenes en 12 uur by kinders. Daarna sal die liggaam ander store, vette afbreek om energie te verkry.

Vette (onder andere vleisvette, botter en olies) word deur lipase (pankreas), galsoute en -sure van die lewer (geberg in die galblaas) afgebreek tot gliserol, gliseriede en vetsure. Vetsure word omgesit in ketone in die lewer (ook metaboliese ketone/ketosis) en gliserol verander in glukose. In afwesigheid van hoë bloedsuiker, is die ketone voedingsketone wat onstaan wanneer die liggaam in 'n vetverbrande staat is en nie staatmaak op koolhidrate vir energie nie.
Alle selle (behalwe die breinselle) in die liggaam kan vetsure gebruik as brandstof. Net die spiere, hart, niere en brein kan ketone as brandstof gebruik. In die afwesigheid van koolhidrate kan ketone tot twee derdes van die brein se energie behoeftes voorsien. Die liggaam gebruik dan ketone as energie. By kinders ontwikkel ketone vinniger en kan hoër vlakke bereik as volwassenes. 

Ketosis moet nie verwar word met ketoasidose nie. By diabetes is ketoasidose 'n uiters gevaarlike toestand waar ketone gepaartgaan met hoë bloedsuiker.  Dit veroorsaak suur in die liggaam wat die liggaam baie vinnig afbreek en lewensgevaarlik is.  Ketosis is 'n metaboliese staat waar die liggaam ketone en vet gebruik as energie (lw in afwesigheid van hoë bloedsuiker.) 'n Goeie video hieroor kan hier gevind word.

DIE ROL VAN INSULIEN

Insulien is 'n hormoon wat deur betaselle afgeskei word.

Betaselle lê in die Eilande van Langerhans wat op die pankreas geleë is. Eilande van Langerhans is ongeveer 0.1mm in totaal en bevat ongeveer 200 eenhede insulien. Die totale volume van almal saam is nie groter as 'n vingerpunt nie. (Om te dink dat iets so klein so groot invloed op die liggaam het!)

Insulien word afgeskei wanneer glukose in die bloed teenwoordig is. Ter verduideliking word insulien hier beskryf as 'n sleutel. Insulien "sluit" selle se reseptors oop. Nou kan glukose die selle binnedring om gebruik te word as energie. Verder stimuleer insulien ook die lewer om glukose te stoor as glukogeen. Insulien stimuleer ook die vorming van vette van oorblywende glukose wat nie dadelik benodig word nie, en dit stimuleer proteïen samestellings in die liggaam.

Bloedglukose  of bloedsuikervlakke word gemeet in millimol per liter (mmol/l) – in Suid-Afrika – en milligram per desiliter (mg/dl) in sommige ander lande. 1 mmol/l is ongeveer 18,05 mg/dl.

Betaselle het 'n "ingeboude bloedglukose meter" Dit registreer wanneer bloedglukose hoog is en skei dan meer insulien af en hou op insulien afskei wanneer glukose vlakke laer is. 'n Normale persoon, sonder diabetes, se insulienvlakke sal nie meer as 1-2 mmol/l styg na etes nie.

Nie alle selle insulien nodig het om glukose op te neem nie. Hulle neem glukose direk uit die bloed. Die selle word eerste beskadig wanneer verhoogde bloedsuiker vlakke oor 'n lang tydperk ervaar word. Die selle is  breinselle , senuwee eindpunte, retina van die oog, niere, adrenale kliere, asook die in bloedvate veral die kleiner bloedvaatjies.

Daar is sekere tye wanneer daar nie genoeg glukose in die liggaam is nie en dan word die afskeiding van insulien gestop om glukose te bewaar vir die mees belangrikste organe. Die liggaam benodig altyd klein hoeveelhede van inlulien, self gedurende die nag en tussen maaltye om die glukose te akkommodeer wat van die lewer afkomstig is. Dit word basale insulien of agtergrond insulien genoem. Groter hoeveelhede insulien wat benodig word tydens etes word bolus insulien genoem. Die liggaam se behoefte aan insulien verskil van dag tot dag en van een tyd in die dag tot 'n ander tyd asook van een situasie tot 'n ander situasie.

Inleiding: Diabetes en Ons

Dit was met gemengde gevoelens dat ons die pad vat Pretoria toe net nadat ons uitgevind het JH het Tipe 1 diabetes. Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê en ons het gou uitgevind dat die pad wat ons loop maar 'n alleen pad is en dat min mense weet wat diabetes is. Daarmee saam is daar ook geweldig baie mites oor diabetes. Dit is ongelooflik om te hoor wat mense kwyt raak.

Ek het begin bekommerd raak oor Jan-Hendrik so baie water drink en op 6 jarige ouderdom skielik weer sy bed nat begin maak het – en nie net een keer per nag nie. Boonop was dit winter en die beddegoed wou net nie droog word nie. Ek het begin ongeduldig raak en geraas wanneer hy so baie water 
in die nag drink omdat ek nie wou hê hy moet weer 'n glips hê nie. Teen Woensdag die 8ste Mei 2002 het ek aan my man die moontlikheid van diabetes genoem en dit net omdat ek erensvan die simptome gehoor het.

Vrydag-oggend, 10 Mei 2002, het ek hom aangesê om niks te eet nie . Ek wou hom apteek toe gaan vat vir 'n glukose toets. Om een of ander rede besluit ek om eerder dokter toe te ry. Daar gekom, vind ons sy bloedsuiker is in die omgewing van 15 mmol en het hy ketone van 4+ (getoets met 'n uriene stokkie). Die dokter het 'n dokter in Kimberley geskakel vind ons uit dat JH ongeveer 'n week in die hospitaal sal moet bly. Daar en dan besluit ek Kimberley is uit. Die besluit was ook na aanleidning van 'n vorige slegte ervaring daar. Ek neem die inisiatief en bel 'n vorige pediater in Pretoria. Die ontvangsdame lig my in dat hulle al hulle diabete na 'n spesifieke pediatriese endokrinoloog in Pretoria verwys. Dié dokter deel my mee dat ons dadelik moet deurkom. Hulle sal vir ons wag, aangesien dit toe reeds ongeveer 10/11 uur is, 'n Vrydag en etlike ure (4-5) se ry soontoe.

Op pad koop Phanus vir ons koeldrank en uit onkunde sê ek dat hy asseblief nie iets moet koop met suiker nie. Hy moet maar vir JH 'n lemoensap koop. Ek besef natuurlik later hoe onkundig ek was en dat lemoensap propvol koolhidrate en suiker is!

In Pretoria aangekom is sy bed in die hospitaal klaar gereed en ook alles wat met die behandeling gepaard gaan. Sy suiker word getoets. Dis in die omgewing van 27mmol (natuurlik die lemoensap!). Skielik is ons in 'n wêreld van toets en spuit en 'n magdom inligting om te leer. Nooit het ek gedink ek sal dit in my hê om iemand in te spuit nie. Min het ek besef hoe baie ek nog gaan leer en dat ek nog steeds op hierdie dag - 14 jaar later - steeds navorsing doen, mense ondersteun en inligting versamel. Die eerste ongeveer ses maande het ek tot 8 ure per dag navorsing gedoen en geleer wat ek kon. Dis 'n geweldige leerkurwe.

Ek het besef indien ek in beheer wil wees van die kondisie en my kind se lewe in my hande is 24/7, moet ek leer wat ek kan. Ons bly ver van spesialiste en ek kon nie met elke probleem in die kar spring en Gauteng of Bloemfontein toe ry nie. Ek het vinnig geleer van bloedsuikers, bolusse, basale en ketone. Skielik het ek geweet al daardie voedselkennis wat ek reeds gehad het nie onnodig was nie, want dis koolhidrate tel en weet wat die invloed op JH se liggaam is. Ek is egter spyt ek het nie toe geweet dat 'n lae koolhidrate leefstyl (van minder as 30g per dag) die beste behandeling vir diabetes is nie.  Ons is aangesê dat hy kan eet wat hy wil en dat hy net hoef in te spuit vir die koolhidrate. So voer ons jare lank 'n stryd met skommelende bloedsuiker, wat vermy kon word.

Die eerste ruk was die moeilikste in my lewe. Deels, omdat ons nou met iets onbekends te doen het en andersyds, omdat dit my kind, my enigste seun is, wat daaronder ly. Nie 'n dag gaan verby wat hy nie sleg gevoel het met óf 'n hoë óf 'n lae bloedsuiker nie. Gepaardgaande hiermee is die persoonlikheidsveranderings en emosionele uitbarstings wat plaasvind as gevolg van bloedsuiker skommelinge.

Aanvanklik was JH op 'n gemengde insulien van kort en langwerkende insulien (Protophane) wat hy 2 keer per dag gekry het en 'n kortwerkende insulien (acraphane) vir etes wat later vervang is met actrapid. Daarna het hy 'n langwerkende insulien (Lantus) 1 keer per dag in die aand op dieselfde tyd gekry (basale insulien) en 'n snelwerkende insulien (Novorapid) om sy etes te dek (bolus insulien). Sedert 22 September 2007 het ons JH op die insulienpomp gesit wat elke 3 minute insulien aan die liggaam verskaf en dan word bolusse gegee om etes te dek.


Dis elke dag 'n kwessie van 'n stryd om balans. Kos, oefening, groeifases in die liggaam, seisoene, stres beïnvloed alles bloedsuiker. Maar met die krag van Bo hanteer ons elke dag soos hy kom.....

Voorwoord

Ek het die blog in 2009 begin met die ideaal om 'n boek in Afrikaans die lig te laat sien. Jare late en het ek nog nie daarby uitgekom nie.  Hopelik kan ek dit die volgende paar jaar doen en dan ook met die fokus op 'n lae koolhidraat leefstyl as deel van behandeling.

Geweldig baie inligting is in Engels regoor die internet beskikbaar, maar bitter min in Afrikaans. Ek gaan wel nou en dan verwysings van ander blogs en webblaaie plaas, wat noodwendig in Engels gaan wees.

Enige kommentaar, vrae en inligting sal verwelkom word.